Uitbranding is iets wat kenmerkend is vir hierdie generasie en wat my na aan die hart lê. ‘n Paar jaar gelede het ek my kliniese praktyk begin, vol vuur en teen ‘n versnellende tempo. Stadig maar seker het my emosionele en liggaamlike kragte uitgeput geraak. Na ‘n paar jaar van self-verwaarlosing, het ek myself op ‘n laagtepunt bevind.
Die herstelpad was ‘n tweejaar reis na my nuwe normaal, ‘n plek waar ek dinge anders en “beter” gedoen het as voorheen. Gedurende die proses het ek ‘n aantal waardevolle lesse geleer, een waarvan was, dat ek nie die voortekens van uitbranding opgemerk het nie. In hierdie artikel probeer ek jou help om hierdie tekens vroegtydig te identifiseer.
Ons neig daarna om passievol te wees oor wat ons doen, vinnig te jaag na doelwitte, verskeie rolle te vervul en baie verantwoordelikhede op te neem, alles terwyl ons probeer om die beste te wees wat ons kan wees. Dit is goed, selfs edel, maar kom ongelukkig teen ‘n prys. Hierdie koste behoort balanseer te word met beleggings in jou menswees sodat jy die wedloop met uithouvermoë kan hardloop.
Hier is 10 tekens dat uitbranding vir jou wink, gekoppel aan 10 oplossings:
1. Ekstreme moegheid
Dit is die enkele belangrikste teken wat aandui dat jou brandstof opraak. Dit behels daaglikse fisieke en geestelike uitputting. ‘n Paar dae verlof los nie die probleem op nie. Selfs matige oefening kan jou uitgeput laat voel. Jy vind dat alledaagse take meer moeite as gewoonlik verg.
Oplossing: Neem onmiddellike aksie om te rus. Dit moet ideaal gesproke tussen 6 weke en 3 maande wees. Kom heeltemal weg van jou werksituasie indien moontlik. Indien nie, delegeer en rus waar jy kan. Moenie impulsiewe, permanente en lewensveranderende besluite maak soos om te bedank gedurende hierdie tyd nie.
2. Gebrek aan beheer
Wanneer jy in ‘n werk is wat jou met beperkte vermoë laat om besluite te neem ten einde jou situasie positief te verander, kan dit die gevoel van frustrasie en magteloosheid verhoog wat tot uitbranding kan lei, bv. ‘n gebrek aan beheer oor hulpbronne, skedules of projekte. Het jy genoeg vryheid om jou tyd te bestuur?
Oplossing: Spreek dit so gou moontlik aan met nee sê waar jy kan. Probeer minder eerder as meer te doen. Heroorweeg jou skedule. Skep genoeg ruimte in jou weeklikse, maandelikse en jaarlikse skedule om rus en balans te bring.
3. Frustrasie en sinneloosheid
Wanneer ons vir ‘n lang tyd in ‘n moeilike situasie is, is ons geneig om baie gefrustreerd te voel. Ons bou wrokke op teen ons situasie en die betrokke mense. Dit kan lei tot sinneloosheid en selfs depressie. Ervaar jy hierdie en ander negatiewe gevoelens meer dikwels as nie wanneer dit by jou werk kom?
Oplossing: Bepaal die oorsprong van die frustrasie. Wat weerhou jou om te kom waar jy wil wees? Wat kan jy doen as ‘n eerste stap om dit nou aan te spreek? Probeer om ander te vergewe en spandeer eerder jou emosionele energie aan proaktiewe probleemoplossing as om te reageer deur `n wrok te koester.
4. Gebrek aan motivering
Om gemotiveerd te wees, verg en gee geestesenergie. Wanneer uitputting en frustrasie vir ‘n lang tydperk teenwoordig is en jou emosionele hulpbronne min is, word dit moeilik om jouself te motiveer om aan te hou. Jy mag vind dat jy toenemend sukkel om te gee wat die werk vereis en net wil wegkom of ontvlug. Met jou afnemende motivering, verminder jou belangstelling en moeite en daarmee saam die sukses wat jy ervaar.
Oplossing: Probeer om jouself te motiveer om net die volgende stap te neem. Hanteer dit een dag op ‘n slag. Soos jy jou strategie toepas om die probleme aan te spreek, sal jy sistematies vordering maak en jou motivering herwin.
5. Gereelde siektes
Wanneer jou liggaam vir ‘n lang tyd onder soveel druk was, begin jy om op adrenalien en kortisol te funksioneer. Met verloop van tyd, begin jou immuniteit daaronder ly en raak jy gereeld siek. Tesame met ‘n gebrek aan slaap, raak ons liggame moeg van die stryd teen die indringers.
Oplossing: Kry professionele hulp van ‘n dieetkundige om jou te help met ‘n gesonde en gebalanseerde dieet en aanvullings wat jou immuunstelsel sal versterk. Stel realistiese doelwitte wat haalbaar sal wees met genoeg tyd om die veranderinge te implementeer.
6. Gespanne verhoudings met ander mense
Afhangende van jou voorkeurstyl van konflikhantering, wanneer jy uitgebrand is, neem jy óf meer gemaklik aan konflik deel as gewoonlik (en met minder finesse, wil ek byvoeg!) óf jy onttrek en vermy jy konfrontasie geheel en al. Ek het vroeer by die werk onttrek van konflik, maar het dan geirriteerd en oorsensitief by die huis geword.
Oplossing: Neem tyd voordat jy praat, dink die situasie mooi deur en bespreek dit met iemand anders wie jy vertrou. Besluit dan om die dringende en belangrike aspekte aan te spreek. Soos wat jy dit doen, sal jy verligting ervaar en jou woema terugkry.
7. Misken jou eie behoeftes
Wanneer jy hard en lank werk om doelwitte by die werk te bereik, kan jy begin om jou eie behoeftes te ignoreer. Ons regverdig dit deur dinge te sê soos ‘dit is die prys wat ek moet betaal’. Of ‘ek moet ‘n voorbeeld stel van harde werk vir die span’, ‘ek is nuut hier, ek kan nie nou tyd af neem’ ens. Dit raak ‘n gewoonte en geleidelik tel jou eie of jou gesin se behoeftes nie meer nie.
Oplossing: Identifiseer die hoofrede dat jy jouself oorwerk. Kyk of jy ‘die permanente opoffer op die altaar van die tydelike’. Jy moet jou prioriteite heroorweeg en grense stel met betrekking tot tyd wat aan werk en huis bestee word. Probeer om een beduidende verandering op ‘n slag te maak bv. nie te werk op Saterdae nie.
8. Jou werkslading is te veel
Ek het hierdie eenvoudige feit geïgnoreer: as jy `n te swaar las te lank dra, sal die las te swaar word om te dra. Jy mag selfs ‘n paar pakkies laat val of `n besering opdoen. Ons vermoë by die werk mag dalk nie die probleem wees nie, maar ons kapasiteit wel. Daar is altyd ‘n beperking aan hoeveel ons kan doen. Tog hoef ons dit nie alleen te doen nie. Ander mense kan ons help om die las te dra.
Oplossing: Begin om die las te verdeel, selfs al is dit net ‘n klein deel op ‘n slag. Alhoewel delegasie ‘n voor die hand liggende oplossing is, word ons soms beperk deur ander mense se gebrekkige vermoëns. Leer dus jou span stelselmatig om die take oor te neem. Huur bekwame en ervare mense. Dit sal aanvanklik tyd en hulpbronne kos, maar uiteindelik tot voordeel van jou wees. Delegeer take wat nie binne jou veld van kundigheid val nie en vermy om ‘n “Jack of all trades, master of none” te wees. As jy ‘n individualistiese werknemer is, spesialiseer en gee bestuur terugvoer oor jou werkslading. Probeer om te reduseer en prosesse te implementeer wat tyd en moeite bespaar.
9. Konsentrasie en aandag verswak
Navorsers Deligkaris (2014) het aangedui dat uitbranding geassosieer word met ‘n afname in die drie hoof kognitiewe funksies: uitvoerende funksies (beplanning, besluitneming, evaluering, inisiëring, inhibisie ens.), aandag en geheue. Daarom, wanneer jy simptome van uitbranding toon, is dit ‘n natuurlike gevolg om te sukkel met hierdie breinfunksies.
Oplossing: Navorsers kyk na ‘breinrehabiliteringsaktiwiteite’ om jou funksionering te verbeter. Fokus op hierdie kognitiewe aktiwiteite. Kyk na bronne soos Dr. Caroline Leaf se boek “Switch on your brain – the key to peak happiness, thinking and health”.
Fisiese oefening, spesifiek aërobiese oefening, is ‘n alombekende teenvoeter vir stres. Onlangse studies toon dat dit kognitiewe en breinfunksionering verbeter. Die aanpassing van jou dieet en gereelde oefening sal ook jou gesondheid en sommige kognitiewe funksies verbeter. Sommige medikasies om konsentrasie te verbeter sal ook help (raadpleeg asseblief ‘n mediese dokter bv. ‘n psigiater).
10. Geestelike droogte
Uitbranding in die bediening is bekend vir die simptoom van `n ‘geestelike droogte’. Dit gebeur wanneer pastore hul eie geestelike lewens verwaarloos en meer gee as wat hulle ontvang. Bedieningskontekste dra gewoonlik by tot hierdie isolasie en rolle van aanhoudende ondersteuning en hulp aan ander.
Oplossing: Dit is krities om grense met jou gemeente te stel. Jy het tyd alleen nodig, op plekke waar jy geestelik gevoed word sonder om in die rol van die gewer te wees. Sluit aan by ‘n mansgroep van ‘n kerk in ‘n aangrensende dorp, gaan na bedieningswegbreke, neem gereelde verlof, maak vriende buite jou gemeente en woon konferensies en uitstappies by waar jy bedien word.
Herstel van uitbranding is moontlik, ek is ‘n voorbeeld hiervan. Dit is nie ‘n skande om op ‘n plek van uitputting te wees en om hulp te vra nie. Dit neem eerder moed en is wys. Jy het ‘n bepaalde rol om te vervul, nou is die seisoen om te ontvang sodat jy kan voortgaan om vir jare te gee.