Verhoudings tussen man en vrou gaan in die eerste plek oor behoeftes. Behoeftes aan liefde, toegeneentheid, seks, hulp met kinders, bemoediging, ‘n luisterende oor, ens. Behoeftes wat nie vervul word nie of halfhartig vervul word, lei tot allerhande soorte dilemmas. Een van die redes waarom ons trou, is omdat ek iets in ‘n ander persoon bewonder wat by my ontbreek. Ons ervaar dat iemand vir ons lief is en omgee en hoop dat dit so sal bly.
Maar namate ons loopbane ontwikkel en ons met ‘n gesin begin, raak dit al hoe moeiliker om ons maat se behoeftes te vervul. Buiten jou maat se behoeftes, het jy jou hande vol met eise van die werk, kinders, familie en die lewe oor die algemeen. Hierdie dinge eis hul tol en kan maak dat die verhouding met ons maat skipbreuk ly terwyl ons “net deur hierdie tyd probeer kom”. Dit is ‘n resep vir ‘n ongelukkige huwelik en as dit te lank voortduur, kan dit tot buit-egtelike verhoudings of selfs egskeiding lei.
As paartjie is dut dus noodsaaklik dat julle praat oor wat julle van mekaar nodig het. Help jou maat deur hom/haar te vertel wat jy nodig het, wanneer jy dit nodig het en selfs waarom jy dit nodig het. Hier is 10 stappe om met jou maat oor jou behoeftes te praat:
1. Wie het ek nodig?
Is jy dalk oorafhanklik van jou maat vir die vervulling van jou emosionele behoeftes? Jou maat kan nie die enigste persoon wees wat jou menswees bevestig nie. Jy is ontwerp om van God afhanklik te wees. Hy is die Bron van jou liefde, bevestiging, selfwaarde, bemoediging en krag. Dit is waarom Jesus sê dat ons niks sonder Hom kan doen nie (Joh. 15:5). Jou maat is soms daar vir jou, maar jy kan áltyd op God reken (Heb. 13:5).
2. Wat het ek nodig?
Dit is baie belangrik dat jy spesifiek is oor wát jy van jou maat nodig het. Jy sal op verskillende tye verskillende behoeftes hê. Identifiseer wat op hierdie oomblik vir jou belangrik is, bv. Het ek nodig dat my maat my help om die kinders te bad? Of het ek ‘n halfuur se alleentyd nodig om te herlaai?
3. Kies ‘n tyd
Tydsberekening is belangrik. As jy jou behoefte aan seks om 18:30 uitspreek wanneer die kinders die huis op horings het en jou vrou moeg en oorweldig is, gaan jy dalk nie die gewenste reaksie kry nie. Wees proaktief en begin vroeër die dag. Of roep jou maat opsy en vra vir ‘n paar oomblikke van sy/haar tyd.
4. Wat het my maat nodig?
As jy jou maat vra wat hy/sy van jóú nodig het, wys dit dat jy omgee en nie net oor jou eie belange begaan is nie. Vra haar direk wat jy kan doen om haar geliefd te laat voel en doen dit wat jy reeds weet.
5. Wees spesifiek
Om vir jou maat te sê dat hy vir jou moet liefde gee is soos om vir ‘n kelner in ‘n restaurant te sê dat jy wil kos hê. Dit help om spesifiek te wees. Jy kan iets sê soos: “Daar is iets waaroor ek graag met jou wil praat. Sal jy my kans gee om dit met jou te deel en dan vir my sê wat jou gevoel oor die saak is?”
6. Vra, moenie net sê nie
Sommige mense verval in die lelike gewoonte om hul maat te hiet en gebied, te blameer of te neul. Dit sal jou maat net frustreer en emosionele afstand tussen julle skep. Vra eerder mooi of rig ‘n vriendelike versoek.
7. Wen-wen
Ideaal gesproke wil ons onsself onvoorwaardelik aan ons maat gee en hom/haar dien soos die Here van ons verwag. Om op die lange duur hierin te slaag, moet ons wen-wen situasies skep waar albei maats se behoeftes vervul word. As albei daarop ingestel is om die ander persoon lief te hê deur sy/haar behoeftes te vervul en bereid is om mekaar tegemoet te kom, sal albei huweliksbevrediging smaak.
8. Wees die held
Soms sal jy die “held” in die verhouding wees en ten volle aan jou maat toegee. Jy sal jou geliefde se behoeftes ten koste van jouself vervul. Dit sal hom/haar geliefd laat voel en sal die verhouding op die lange duur versterk.
9. Maak ‘n afspraak of tref ‘n reëling
Wanneer julle oor jul behoeftes praat, behoort julle ook ‘n tyd vas te maak om daardie behoeftes te vervul. Julle kan spesifieke tye afspreek of reëlings tref, bv. “Ons kan vanaand negeuur intiem wees”. Of “Op Dinsdae en Donderdae sal ek die kinders bad”.
10. Bly in voeling
Maak ‘n gewoonte daarvan om daagliks by mekaar “in te loer”. Dit verseker dat julle in voeling met mekaar bly en dat behoeftes nie lank onvervul bly nie. Dit sal julle ook nader aan mekaar laat voel. Steel tien minute voor of direk na werk en vra mekaar: “Wat is jou behoeftes vir vanaand of die naweek?”
Wanneer julle hierdie stappe met ‘n nederige en liefdevolle gesindheid volg, sal julle nader aan mekaar groei en saam nuwe dinge ontdek. En deur wysheid en krag uit die Here put, sal julle leer om mekaar op nuwe maniere lief te hê.
-Erich Schoeman, Kliniese Sielkundige