Favicon

Addiction

Burnout

Wellbeing

Dis broodnodig om verhoudings te begin en onderhou, maar tog fokus die minderheid mense daarop.  Wat jy moet weet om wonderlike menseverhoudinge te skep:

Wanneer mense met jou te doene het, ervaar hulle sekere dinge.  Hulle voel jou impak.  Jy los voetspore op hul siele.  Jou impak veroorsaak of mense naby of ver van jou af wil wees, jou vertrou of nie, van jou hou of nie.  Die vraag is ‘Wat los jy agter?’.  Hoe voel mense nadat hulle by jou was?

Ons kan jou impak op ander mense toeskryf aan hóé jy met hulle omgegaan het, hoe jy hulle hanteer het as’t ware.  Hierdie manier noem ons jou styl.  Jou styl van interaksie met ander.  

Die twee paaie

Wanneer mense grondpad ry moet hulle meestal baie moeite verduur, dis van stof insluk wat met ‘maak toe al die vensters!’ uitgeskree word, tot `n gestamp en gestoot dat die warm koffie so spat.  Hulle absorbeer hobbels en klipperigheid, al die dongas en slote, ja man, dit kan harde werk wees om grondpad langs te ry.  

Na die tyd het hul motors skade van al die geruk.  Nou as die paadjie nie gereeld geservice word nie, dan is dit eers erg!  Dan moet jy `n spesiesnjale 4×4 kar hê anders ruk jy uitmekaar.  Die tekort aan skraapwerk aan die pad kos die gebruikers daarvan baie geld.  

En mense ry net `n slegte grondpad as hulle nie anders kan nie.  As daar geen beter alternatief is nie.  Anders kies hulle `n ander pad, en dan eerder `n teerpad.  Die ene is mos nou in `n heel ander klas.  Die teerpad het ons lewens verander!  Dis gerieflik, vinnig, veilig en aan jou kant.  Daar kry jy wel die moontlike slaggat en dit ook om dieselfde redes…min onderhoud.  Maar dit is gewoonlik in die minderheid (hang nou net af van waar jy bly!)

Mense betaal nie so `n groot prys wanneer hul teerpaaie ry nie. Die oppervlak gly gly so onder jou en die interaksie tussen jou en die pad werk lekker.  Jy wil (en kan) dan sommer baie verder en langer daarop tyd spandeer.

Die skakel

Net so is dit tussen mense.  Jou styl is of die van `n teer of `n grondpad.  As jy die teerpaad persoon is, sal jy mense na jou toe aantrek en hul sal by jou tyd wil spandeer.  Jy sal minder eensaam wees, minder onnodige konflik met mense hê en hulle sal van harte glimlag as hul wegry na `n kuiertjie by jou.  Jy sal hul help, ondersteun en moeite doen om hul op te bou.  Hulle sal voel jy respekteer en aanvaar hulle en doen moeite om hulle tegemoed te kom.  

Maar by grondpadmense is die ervaring heel anders.  Jy`t reg afgelei, dis net stampe en stote.   Jy sal mense rondom jou hoor kla en brom, of as hul die guts het, jou selfs aanvat!  Party sal draaie om jou loop (en ry) om tog net nie met jou te praat nie, want jy’s harde werk.  Jy sal mense affekteer op `n seer manier, jy weet, skade.  Die stories van jou klipperigheid sal ook die geweste vol lê.  

Mense sal sê dat jy of veeleisend, pessimisties, hard, kwaai en of selfsugtig is.  Dit klink hard, maar mense sal dit beleef as jy hul nie met respek hanteer nie.  Dalk het die lewe jou ook hard geslaan.  Dis jammer.  Maar die einde van `n grondpad is dat jy nie soveel mense sal help soos jy kon nie, en dit omdat jy nie wou toelaat dat jy geskraap word nie.  Dat die Here deur Sy Woord en Gees jou siel se gate heelmaak nie.  So word jy onbruikbaar en alleen.

Die pad uit

Maar as jy gereeld bereid is om in die spieël te kyk en te luister, sal jy leer.  Jy sal bewus word van waar jou slaggate is en daaraan kan begin werk.  As jy die Heilige Gees toelaat om jou te lei, en die Waarheid van die Woord om jou te vorm, sal jy nog meer gesond word.  So sal ander nie net seepgladde interaksie met jou hê nie, maar ook betekenisvolle, Goddelike oomblikke belewe.  Jy sal ontdek dat jy eintlik geliefd is, `n seun van die Allerhoogste is en dat Jesus in jou leef, en jy in Hom.  Jy sal merke agterlaat wat Jesus se vingerafdrukke op het.  Jy sal ewige beleggings maak.  En dis mos die pad om te volg!

Joh  13:34  “Ek gee julle `n nuwe opdrag:  Julle moet mekaar liefhê, soos Ek julle liefhet, só moet julle mekaar ook liefhê.”

Joh 14:6a “Jesus sê vir hom: Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe..”