Het jy al hierdie vraag vir die Here gevra? Die Here se antwoord mag jou dalk verras.
Hy was `n baie suksesvolle en gerespekteerde man in sy gemeenskap, eintlik in die hele land. Hy het alles gehad en hoef homself nooit te bekommer oor die dag van môre nie. Sy kinders was gesond, besigheid het geblom en hy, hy het ‘arrive’. Bo-op dit alles was hy werklik `n kind van God. Geseënd.
Toe, uit die bloute tref daar eendag `n tragedie. `n Reeks van hulle. En daar is hy, in `n oogwink van ryk na arm, groot familieman na amper enkeling, uiters suksesvol na uiters bejammerend en geblameer. Jy ken sy naam, dis Job.
Die pyn
Dinge werk nie altyd uit soos ek beplan nie. Dit loop soms skeef en krom. Ek kyk dan na die belofte wat die Here aanvanklik gemaak het en sien dat dit soos die teenoorgestelde lyk wat gebeur. Daarna begin ek paniekerig raak en stres. Ek voel selfs jammer vir myself, want my pakkie dra soms te swaar. “Hoe lank nog voor die deurbraak kom, Here?” is my klagte. Ek vergeet dat Hy my liefhet en dit bewys het deur te sterf aan die kruis. Ek sien net hierdie Everest voor my. Dit maak die las net swaarder.
Dalk is die probleem nie dat ek `n vraag vra nie, maar dat ek die verkeerde vrae vra. Is dit dalk hoekom ek aanhoudend met die leertjie afgly en van voor af begin?
Die vraag
Hoe het Job hierdeur gekom? Wat het die draaipunt vir hom gebring? Iemand het eenkeer gesê “Ask good questions and get good answers”. Die teendeel is ook waar. My fout was dat ek aanhou vra hoe lank dit gaan neem voor die seisoen draai, in plaas daarvan om te kyk na God en vra, ‘Wat is dit wat U my hierdeur wil leer?’ en ‘Hoe wil U hierdie gebruik tot U eer?’.
Dis hier waar die Here tot my deurdring en ek die antwoord hoor, ‘Kom na My toe, almal wat moeg en belas is en Ek sal jou rus gee’ (Matt 11:28). Daarna kom ek toe by `n punt. Die draaipunt.
Die punt
Ek het ongelukkig met `n lang Kaapsedraai daar uitgekom. Dit kon seker gouer gebeur het! Die plek waar ek begin wegkyk van myself, my sogenaamde onvervulde behoeftes en begeertes en opkyk. Opkyk na Sy gesig. Job het na `n hele rits vrae by die punt gekom van oorgawe. Van besef dat hy kaal uit sy moederskoot gekom het en kaal daarna gaan terugkeer. Dat niks werklik aan hom behoort nie, nie eens hyself nie. Hy is afhanklik, swak en klein. Hy het God nodig. Onvoorwaardelik. Ek ook.
Die verligting
In die 1986 film ‘The Mission’, beleef die geharde soldaat, gespeel deur Robert De Niro, iets soortgelyks. Katolieke priesters bind sy ‘sonde’ metafories aan hom vas as `n groot sak klippe wat hy deur die woude en oor die berge heen moet saamsleep. Hy struikel en val, bloei en vloek en uiteindelik, na `n lang gestoei, gee hy oor aan God.
Hy kom dan tot stilstand, bedaar en skyn van vrede. Dis ook my storie. Een van lank stoei met God en later uit desperate frustrasie, die strydbyl neerlê en om hulp vra.
Die herstel
Job se lewe het `n ommekeer gemaak. Hy het dubbel soveel ontvang as tevore. Hy was voor die krisis die rykste mens in die ooste. Nou het hy meer as genoeg.
Jesus het ook herstel beleef na die kruis. Een van die redes dat Hy kon oorgee en die kruis verduur was omdat Hy déúr dit gekyk het na die vreugde wat daarna vir Hom wag.
Heb. 12:2 (NLV) “Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur.”
Dit was ook vir my `n les. Daar wag meer blydskap, guns en seën anderkant oorgawe en gehoorsaamheid. Om die sondige begeerte na onafhanklikheid en ‘self-sufficiency’ te weerstaan bring my Sy vrede, Sy Heer-skappy. So erken ek dan dat Hy die Here is van my lewe, nie net die Redder nie.
Die antwoord
So die antwoord op die vraag was toe al die tyd `n reaksie op Sy liefde! En dit weergalm in my gees,
Jes 41:10 “Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Moenie ontsteld word nie, want Ek is jou God. Ek maak jou sterk en wil jou help. Ek laat jou oorwin met my regterhand wat mense red.”